| Chapter 147 |
1 | Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas! |
2 | Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. |
3 | Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. |
4 | Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. |
5 | Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. |
6 | Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. |
7 | Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; |
8 | wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, |
9 | wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep. |
10 | Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. |
11 | Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. |
12 | o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God! |
13 | Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. |
14 | Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring, |
15 | wat sy bevel na die aarde stuur -- sy woord loop baie vinnig. |
16 | Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. |
17 | Hy werp sy ys heen soos stukke -- wie kan bestaan voor sy koue? |
18 | Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai -- die waters loop. |
19 | Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. |
20 | So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, die ken hulle nie. Halleluja! |